dit suis vanaand in tolbos tale rond-en-wind-ge-foeter oor ‘n dor doer pad ‘n uitgestrekte stoftong lek geraamtes tot aan die silwer koppies in die Klein Karoo se maan
skuld skuld skuld–in–aar
is Ma ‘n vreemdeling wat staan en tee drink in ‘n ander vrou se blou kombuis
skuld skuld skuld–in–haar
al starend na die krake weerspieël die vensterglas ‘n aarde broos verbrokkel
maar
die reën sal kom my kind die reën sal kom profeteer die roes–rooi wolke
al loeiend in die wind
sal Ma staan onmiskenbaar soos ongetemde buffelsgras gewortel en gegrond