Submit your work, meet writers and drop the ads. Become a member
Jul 2016
skuld
skuld
skuldenaar

dit suis vanaand
in tolbos tale
rond-en-wind-ge-foeter
oor ‘n dor doer pad
‘n uitgestrekte stoftong
lek geraamtes
tot aan die silwer koppies
in die Klein Karoo se maan

skuld
skuld
skuld–in–aar

is Ma ‘n vreemdeling
wat staan en tee drink
in ‘n ander vrou
se blou kombuis

skuld
skuld
skuld–in–haar

al starend na die krake
weerspieël die vensterglas
‘n aarde broos
verbrokkel

maar

die reën sal kom
my kind
die reën sal kom
profeteer die roes–rooi wolke

al loeiend in die wind

sal Ma staan
onmiskenbaar
soos ongetemde buffelsgras
gewortel en gegrond
-------------------------------------
13/02/2016
Christine Ueri
Written by
Christine Ueri
Please log in to view and add comments on poems