by 3 members Die damwal het seker dalk ‘n jaar terug al gebreek.
Dalk korter, dalk langer. Ek sal nie weet nie.
Maar dat daar water oral om my is vir meer as maande, dit weet ek.
Ek was bewus gewees.. Is bewus, van die water wat so met ongenooide tussenposes skielik soos ‘n groot brander bars oor my kop. Soms op ongemaklike tye en onverwags, maar meestal in die nag.
Die water van onbeskryflike hartseer.
Nee ek wil nie die woord hartseer gebruik nie.. Dit beskryf dit nie reg nie. Dis sadness.
Nee, dis SADNESS!. Nie sadness, punt nie.
Dis SADNESS, uitroepteken, punt.
Elke keer as die hartseerwater sy onverwagse golf oor my gegooi het, het ek vinnig myself opgetel, rondgekyk om te sien of my swemklere nog reg sit.. En dan begin uitstap. Maar eintlik was dit trap, watertrap.
Intussen los ek my stem in my gedigte, kry vir my ‘n hoes en proes as geweer en teen slaaptyd, ‘n koue/warm gevoel wat my vorderings proses verwar.
Van daar af gaan alles weer goed want die jas is weer uit die kas gehaal en die stof netjies uitgeskud.
Dit voel of ek sweef in die lug, al staan ek op die grond.
Om daar te wees as ek my oë oopmaak, om daar te wees as ek alleen voel en myself jammer kry. Die hele tyd net HIER! In my face!
En skielik vra iemand of ek oraait is en ek antwoord vir die eerste keer.. ‘Nee’.
Van daar is dit nog net af en toe opkom vir asem skep.
So sit ek met die diagnose. Ek voel skuldig.
Is dit die regte pad? Ek weet dis waar en wat ek wil wees en dat ek nooit gan verander nie.. Nooit is ‘n lang tyd so ek sê dan eerder tot die dag “nooit” aanbreek.
Dit is die slinkse kyke in my rigting wat my opval. Die opmerkings van die wat nie weet nie, die wat seker altyd in die donker gaan bly omdat dit die regte ding is om te doen. Sal hulle my verwerp, dis ‘n kans wat ek moet vat en moet los.
Dit is nie aanvaarbaar nie, ek weet dit. Maar is dit reg om dit te moet wegsteek en voor te gee wat ek nie is nie! Skynheiligheid is seker dan een van die beter oortredinge of verkeerde dinge om te kies..
Staan daar dan nie ook geskryf, om te oordeel is ook ‘n sonde nie?