Submit your work, meet writers and drop the ads. Become a member
Jan 2018
met nat oƫ en stem rasper-hees
sal sy my eers
met kaneel en gemmer genees
met swaar lyf en kop wat klop
salf sy my eers
met heuningwoorde gesond

en wanneer die lewe my hoogtak-drome snoei
bewerk sy my sodat ek opnuut kan groei
met die seer wat nog so rou in haar talm
bid sy eers die onrus in my kalm

en ek weet saans ween en woed
onverbiddelike storms
in haar gemoed
en dan soggens uitgespoel en broos
is sy nooit te swak om haar kroos
eersmaal te troos
vir speelgrond wond of hart wat breek
terwyl daar dubbeltjies soveel dieper
in haar insteek

die plooikuiltjies waar daar gedurig riviere deurgeloop het
vir elke afvlerkkind
die lyntjies waar sy op die mooiste wyse
haarself met ander verbind
waar sy soveel ander se seer verberg
ten spyte van alles wat dit van haar verg

hier sit ek stil en verwonder my
aan Ma se halfweghuis hart wat altyd oopbly
Poem in my mother tongue(Afrikaans) dedicated to my mother.
Kimberley Anne Spence
466
 
Please log in to view and add comments on poems