My pen lè los in my hand , Bibberend soos 'n straatkind in die kou; Net so blinkoog - net so hol, Vol drome wat in die agterkop brou
Maar die ink loop hortend oor die blou Treinspore, mompelend soos 'n man Wat die vreemde dialek van opgee praat En sy laaste vloek op die hemel inspan
*** sku sluip die musa in die skemerson Waar net echoes van haar in die droewige letters lê En die gebeendere van hol woorde waai met die wind Tot waar sal net die uitgedroogde môre kan sê?
My pen is nietigvaal teen die goudskrif teen die muur En hunker uit desperaatheid na 'n siggaret , want die ander het vere en woorde wat vlieg... *** skep ek 'n wereld met die dors pen wat ek het?
My môre lyk puntloos en onvoltooid. My gemoed knak en splinter oor die papier. Die ink loop meer kunstig onder fisika As die hand van die skrywer, Die verlepte Angelier