My kinderjare was Soetsappige drome En ek het weggesluimer Agter suiwer onskuld, Met ń krag van geloof Wat my oortuig het dat My God ook jou God is...
Dat elke pad ń onnodige Veiligheidsgordel verg Dat elke beursie ń oneindigheid van R20 Note besit het en dat Elke graf leeg was na die derde dag
Dit was deur die verskillende stadia van bogenoemde Uiltjies knip wat my Tot die meerderheids Besef van addolosensie gebring het. Selfs al het ek teen ń Eksponensiële spoed Ń volwasse begrip ontwikkel ,Was my redenasie oor die Hiernamaals nog vaag Met slaap in die oog
Eers toe daar een langs my Val En tien aan my sy Het die drakoniese deun Van die doodswek my Uit my snoesige slaap geruk.
Met elke groef wat nuwe Paaie teer vir my trane, Elke silwer randjie wat Lostrek van die donker wolke En op my hoof kom rus Soos die koue staal Van ń koningin se swaard Wat my inlyf in die Sidderende realiteit van grootword en lewe
Nou is die droom verby Nou staan ek op En vrees om plat te val... Ek oes en saai Met ń bekommernis of my ploeg iets sal maai... Nou word paaie ń lang gebed Ter beskerming van my hart Wat ek so maklik uitdeel En beursies ń kommoditeit Wat skree van die honger Soos die mense van ń land Wat al sy geloof verloor het...
Nou brand die sand my voete En die seesout droog my vel... Nou word wraak ń amp En liefde ń kombinasie Van gifte en giwwe , maar ek sal nooit weet Wanneer is dit wat nie...
Nou word lewe ń gebed. Ek het ophou my Kinder rympies sê, Nou bid ek pynlik swaar En hoop dat God Nog genade vir my en vir jou Sal hê